Warrelwindweek
Posted July 4, 2008 by Jo-Ann SchouCategories: Sommer
Hierdie eerste week in my nuwe aanstelling het verby my geflits teen die spoed van witlig. Ek was Maandag nog bietjie nerwerig, maar vanaand voel ek goed. Daar is nog ‘n moerawiese styl opdraend wat voorlê voor ek regtig op dreef sal wees, maar as ek na die syfers kyk, gaan dit glad nie ‘n slegte eerste maand wees nie.
Daar is die normale jakkalsies. Ek is uitdiens voor ek indiens was. Dit is maar omdat my aanbodbrief vir Junie was en iemand gaan staan het en my rekord te vroeg gaan aktiveer en dit weer gaan deaktiveer en toe ons nie my registrasie op die hoofraam uitgesorteer kry nie, het ons agtergekom dat ek “terminated” is. Ek onthou vaag ‘n stout liedjie van destyds met ‘n frase ”it was al over before it began”…
Natuurlik gaan dit weer vir my ‘n helse aanpassing wees van ‘n eenman admin afdeling na ‘n groot oopplankantoor toe. Ek en ‘n ander konsultant deel ‘n assistent en dit is die patroon deur die hele kantoor. Ek vind die mense baie interresant. Die takbestuurder weet wat hy doen; hy maak die regte geluide en hou aanloklike wortels uit en die span trek hard saam. Kyk, die klomp werk dat die biesies bewe en alles loop vlot op goed ge-oliede wiele. Ek is egter gewaarsku dat dit teen afsluiting ‘n perd van ‘n ander kleur is. Sal wag en sien.
Ek het so oor skoonpa se skouer geloer na die You en gesien Bill Gates het afgetreë. Hy is nie vreeslik baie ouer as ek nie en die derde rykste man in die wêreld. Kan nie net vir een dag die rente op sy geld kry nie? Dan kan ek ook flussies aftree.
Ek gaan vir eers nie amptelik op kursus nie. Ek werk op my eie deur die handleidings en doen dan die Virtual Assessor se toetsies op elke afdeling en “Bob’s your uncle”. Ek het al voorheen deur afstandonderrig gestudeer, dus het ek nie ‘n probleem om op my eie aan te gaan nie. Ek het ook reeds ‘n redelike kennis van party van die produkte, dus is niks onoorbrugbaar nie. Dit beteken net dat kuier op die Kissie en elders maar skraps gaan raak. Money talks. En dit sit konfyt op die brood. Ek gaan nie blogs skrap of sluit nie, maar ek sal dit verseker afskeep. Ek loer van nou af so gereeld moontlik in.
Geniet die naweek, skreeu vir die Bokke en vir WP (ek dink nie Cheetahs kan swem nie)! Tot iewers in volgende week, wederom. En dankie vir al die tikkertjietikkies!
Ek het jare terug ‘n kollega gehad wat muntstukke versamel het. Hy het vir my twee randstukke van mindere waarde gegee - sommer net omdat hy ekstra gehad het. Dit is ‘n 1966 met Jan van Riebeeck en die 1967 met Verwoerd agterop. Op die prent hier langsaan is die twee muntstukke langs ‘n R5 muntstuk. Verbeel jou so 10 van die randstukke in jou beursie… behalwe dat die goed nogal groot is, het dit ‘n bietjie van ‘n blikkerige klank. Ek het gaan rondkrap in wye w van w en het gesien dat die munte verkoop word vir tussen R45 en R72. Ek bêre myne maar weer in die geldsakkie mooi toegedraai in sneesdoekies. Dit is vir my kinders vir eendag. Vir ‘n “keepsake”. Nie omdat dit enige regte waarde het nie. Miskien kan hulle interresante sleutelhouers daarvan laat maak. Het julle enige sulke nuttelose bêregoed wat so nou en dan uitgepak, bekyk, blinkgevryf en weer gebêre word? Nie iets met noodwendige materiële waarde nie, maar wat tog ‘n storie of ‘n emosionele waarde het? Vertel bietjie… sommer hieronder of tag jouself 





Dit is ‘n tragedie van astronomiese proporsie… die feit dat ek nooit van die silwer sikspens geweet het nie! Ek hoop dat ek ten minste een meisie van ‘n lewensbelangrike flater kan red.
Ons het almal so ewe tradisioneel altyd gesorg dat ons “something old, something new, something borrowed, something blue” het as ons of iemand na aan ons die dag getrou het. Het jy al ooit gewonder hoekom? Dit is met die uitvindslag, wat ek netnou oor sal gesels, dat ek agtergekom het dat die tradisie nie volledig beoefen is nie en dat dit eindig met “a silver sixpence in her shoe”. En dit is waar my ding lê…
Die “something old” is simbolies van die kontinuïteit van die bruid se verlede en familie. Die “something new” is simbolies van die optimisme en hoop vir die bruid se nuwe lewe wat voorlê. Die “something borrowed” (gewoonlik ‘n item van iemand wat gelukkig getroud is) is veronderstel of van die goeie geluk oor te dra. Die “something blue” simboliseer liefde, nederigheid en vrugbaarheid. Dit is egter daardie sikspens wat my moses is en verduidelik hoekom ek klippe kou by my bankbestuurder, want dit is daardie sikspens in my skoen wat volgens tradisie sou bygedra het tot rykdom en finansiële sekuriteit.











Kommentaar